Ek moet bieg.
Ek luister soms RSG. Nie per ongeluk of noodgedwonge omdat dit in my ouerhuis by elke radioluidspreker uitpeul nie. Ek skakel in. Veral as Nikki met sy growwe stem die tannies eintlik terg en sommige inbellers slegsê.
Daar was al kere wat ek histeries gelag het oor die goed wat die mense kan kwytraak. Dan is daar kere wat ek sit en dink, wat op dees aarde sal maak dat iemand wil inbel om met Nikki te gesels? Gaan my verstand te bowe, gelukkig vir my verskaf dit alles goeie vermaak.
Die een keer het hulle gepraat oor rook. 'n Tannie van een of ander Tweebuffelsmeteenskootdoodgeskietfontein het ingebel en vertel dat sy ingroei toonnaels het. Ja, jy lees reg. Ingroeitoonnaels, dis waaroor my volk bieg by 'n radio-omroeper!
Haar verduideliking was soos volg:
"Hallo Nikki, (is ek op die lug?) Nikki, ek wil nou vir jou 'n ding vertel. Ek het ingroeitoonnaels. En Nikki, ek was nou al verskeie kere dokter toe daaroor. Weet jy wat sê die dokter toe vir my?"
(ek kan jou belowe Nikki wou nie weet nie, maar sy het hom in elk geval vertel)
"Nikki, die dokter sê dis omdat ek rook. So daar het jy dit. Kan jy glo, Nikki! Is ek nog op die lug?"
So gister rits ek rond in die Rooi Gevaar en skakel toe weer in op RSG.
Hulle het gesels oor trotse Afrikaanse sê-goedjies. Tannie Moeks van Namakwaland het ingebel om te vertel dat haar pa so lief is vir golf speel. As die bal so stadig gaan stilstaan langs die gaatjie dan sê hy: "Die balletjie lê so mooi soos 'n bruid op 'n bed"
Nou ja, miskien nie so vreeslik snaaks nie, maar Nikki het dit verloor. Hy het so gelag dat hy nie die volgende persoon kon hoor wat ingebel het nie. Hy het so erg gelag, dat ek begin lag het.
So tussen al die stres was dit net die ding wat ek nodig gehad het. Dankie RSG dat ek so lekker kan lag, al is dit so moeilik om te erken ek luister eintlik na julle!
Subscribe to:
Post Comments (Atom)

No comments:
Post a Comment