Thursday, October 9, 2008

roomys statistieke

Ek hou nie van roomys nie.

Nie omdat dit vet maak, of te ryk en romerig is, of te soet nie. Ek hou van die idee van roomys eet op die strand. Dit lyk altyd so lekker om 'n roomys te deel en lek-lek in die straat te stap met jou liefling en 'n dubbel sjokolade-toffie op een van daardie lekker horinkies.
Maar ek hou nie van roomys nie, al van kleins af.

Roomys is koud en gee my onmiddellik hoofpyn.

So ek is besig met 'n magdom statistiek wat ek moet verwerk en kodes gee en in Excell op 'n spreadsheet moet sit.
Ek haat Excell.
Dis te reguit, te akkuraat, te veel blokkies en herinner my hopeloos te veel aan iets soortgelyk aan 'n kontantontvangstejoernaal of watookal dit was wat ek geleer het in rekeningkunde in st7.

En met al hierdie navorsing word ek toe geforseer om 'n spreadsheet te maak. Al die blokkies, al die kodes, al die data. Genoeg om my hoofpyn te gee, want ek kyk kruismedwars en kan nie sien watter lettertjie by watter nommertjie moet kom nie.

Dis toe wat ek aan roomys dink. (want dis skielik koud hier in fharga en nie meer so subtropies nie). Net daar vind ek die oplossing vir my hoofpyn! Die rye en rye blokkies is nou in kleure in roomys skakerings. Lyk te pragtig, so asof mens dit wil lek.

Van een hoofpyn na die volgende is ek darem nou heel in my skik met my roomys statistieke!

No comments: